Terugblik op die jaar van 2016


Voortrekker die tuiste van gelukkige kinders.

Bethlehem Voortrekker Hoërskool is nie net ‘n gebou nie. Dit is ‘n plek waar enige iemand die hartklop van gelukkige kinders kan voel. Binne hierdie grense vind elke unieke kind sy plek om deel te word van die groter Voortrekkerfamilie. Hier is eenheid in verskeidenheid die wagwoord.

Daar is beslis geen alternatief vir die gees wat by BVHS heers nie: een van akademiese uitnemendheid in ‘n gelukkige, lewenskragtige omgewing waar ‘n gesonde balans tussen akademie, sport en kultuur heers

Tradisie

Tradisie kweek Trekkertrots. In 2017 vier Voortrekker sy 115jaar-fees. Om ‘n ryke tradisie te hê van meer as 100 jaar, skep ‘n besondere trots by ons leerders en oud-Trekkers. Ons streepbaadjie is die heel eerste baadjie wat in SA geregistreer is as amptelike skoolkleure: 1928.

Voortrekker is ook lid van die SA Alumnibond. Ons oud-leerders is vir ons baie belangrik en waardeer hul insette in die vooruitgang van die skool.

Ons slagspreuk vir 2015 was: Voortrekker is die sleutel tot sukses. Dit word op talle gebiede bewys.

Akademie

Akademie is ons prioriteit en daarom bied ons aan ons leerders ‘n wye beroepsgrigte vakkeuse aan om aan meer as 90% van die leerders toelating tot tersiêre studies te bied. Jaarliks tel BVHS onder die Vrystaat se topskole wanneer die matriekuitslae bekend gemaak word en die personeel word beloon tydens die prysuitdeling van die Vrystaatse Onderwysdepartement. BVHS is ook ‘n komprehensiewe skool omdat daar ‘n volledige tegniese afdeling bestaan.

Interaktiewe borde en WI-Fi in alle klasse, maak die gebruik van tegnologie toeganklik. Op EXPO vir jong wetenskaplikes het ons 2 kategorie wenners en verskeie medaljewenners. Ons top tien leerders van graad 8 tot 11 word beloon met ‘n akademiese toer aan die einde van elke akademiese jaar. Hierdie jaar vlieg ons Kaapstad toe.
Bethlehem Voortrekker het in 2016 op vele terreine sy merk gemaak.

Sport

Atletiek:

BVHS stap ook na die Vrystaat atletiekbyeenkoms weg met die titel as beste in Vrystaat!  Op SA’s word 2 van ons atlete op die top 50 atletelys geplaas.  Ons het ook 3 goue medaljes verower asook 17 medaljes in totaal.

Rugby

Rugby is deel van Voortrekker se uitnemendenheid wat die toets van verskeie seisoene deurstaan het. ’n Ervare afrigtingspan wat deur name soos Braam van Straten, oud-Springbok en die legendariese Japie van Wyk gelei word, is een van die redes waarom 3 van ons spanne ligawenners en 5 spanne naaswenners van die Griffonligas was in 2016.

Daar was ook 26 spelers wat in provinsiale spanne gespeel het in hierdie seisoen.Die Griffon 7’s span word deur BVHS-spelers gevul en toerr na Dubai om daar te gaan deelneem.

Hokkie

Ons hokkie het hierdie seisoen ongelooflike hoogtes bereik:  ons 1ste seunsspan 0/14A-span en o/16A-span speel in die Vrystaatbeker toernooi. Die 0/14’s eindig 3de en die o/16A-span 2de.  Verskeie van ons spelers is gekies vir provinsiale spanne en toer na Nederland. Die toevoeging van die Astrobaan tot ons geriewe en professionele afrigting, het vrugte afgewerp.


Swem

Swem is ‘n amptelike sportsoort by Voortrekker. In ons onderdak verhitte swembad berei ons swemmers hul voor vir galas en oopwater-kompetisies, o.a. Midmar en Sun City. Een van ons swemmers behaal ‘n 5de plek tydens die SA swemkampioenskappe. Ons neem ook as skool deel aan die Interhoër provinsiale swem met goeie uitslae!.

Tydens die Noord-Vrystaatgala eindig ons 1ste en tydens die Interhoër gala behaal ons seuns derde plek en ons dogters 4de plek.

Netbal

Voortrekker-netbal maak hierdie jaar naam in Suid-Afrika. Die o/15A’s wen die Nasionale Fast 5 toernooi. Die o/14A en o/15A –spanne verteenwoordig die Vrystaat by die SA Skolekampioenskappe. Ons lewer 20 provinsiale spelers op in die 2016 seisoen. Ons het ook 2 vlak 1 afrigters in ons span.

Fietsry

Fietsry maak ook deel uit van ons sportsoorte: ‘n sportsoort wat baie groot groei toon. Gholfspelers speel in 3 ligas en toer jaarliks na die mooiste gholfbane in die land.


Krieket

Die opgradering van ons krieketkolfblad en oefennette is nog ‘n toevoeging tot ons puik fasiliteite wat ons aan ons leerders bied. Die 1ste span en 0/15 span eindig derde in die Noord-Vrystaatliga . Vyf spelers is gekies vir provinsiale spanne

Tennis

Tennis by Voortrekker is van topgehalte. Ons wen in 2016 5 uit die 7 ligas. Dis nie net ‘n spel nie, maar ‘n leefwyse.
Vir 2017 word daar 3 groot sporttoernooie beplan: die Clarens Netbaltoernooi en BVHS hokkietoernooi en 0/14 rugbytoernooi

Kultuur

Op die kultuurterrein het ons regtig hierdie afgelope jaar gekook! Ons spog met ‘n nasionale wenner van 2 musiekkompetisies. Voortrekker is regtig soos ‘n fabriek as dit by pianiste kom! Selfs een van ons oud-leerders het ook hierdie jaar by ons prestige kultuuraand gesorg dat dit werklik ‘n kragtoer van talent was.
Chicago is nog op almal se lippe….en toe kom Mamma Mia in 2016! Hierdie musiekblyspele is ‘n hoogtepunt op ons kalender. In 2017 is dit Entagled. Hou die kalender dop.
Op nasionale vlak presteer ons redenaar. Daar word verskeie plekke onder die top 5 opgelewer en dring met debat deur tot op provinsiale vlak. Ons neem deel aan die Volksblad se Dink of Sink kompetisie asook aan die ATKV en Radikale Redenaars se projekte. Hier maak ons letterlik ons stem dik met die plekke wat ons los redeneer.
Voortrekker se SAASTA debatspan kom tweede in die Vrystaat waar wetenskaplikes redeneer oor oplossings vir die nasionale krisisse.
Tydens die afgelope kunswedstryd was daar byna 200 inskrywings vir die verskillende afdelings.
Ons leerders kan ook spel. Verskeie plekke word verower in die WOW spelkompetisie. Ook ‘n eerste plek nasionaal vir 2016.

Gemeenskapbetrokkenheid

Bethlehem Voortrekker is betrokke by verskeie uitreikaksies na die gemeenskap; deur ons betrokkenheid ploeg ons iets terug na n gemeenskap met ‘n oop hand vir ons skool – bv Pathways, hospice, kinder- en gesinsorg, CTK…om net ‘n paar te noem. Vir ons is dit belangrik om die kinders holisties te ontwikikel. Geestelike verrykingskampe en projekte word geloods bv. ons graad 9 kamp ens.
Checkers het ‘n nasionale Entrepeneurskompetisie aangebied vir hoërskole. Bethlehem Voortrekker is aangewys as Nasionale wenner in 2015. In 2016 doen ons dit weer met ‘n projek in samewerking met Checkers op Nasionale pannekoekdag.

Koshuis

BVHS is lankal nie meer net ‘n Vrystaatse skool vir Vrystaatse kinders nie. Met ‘n koshuis wat spog met puik geriewe, lok ons kinders van oral oor. Ons het ons koshuis uigebrei om vir meer kinders die geleentheid te bied om deel te kan word van Bethlehem Voortrekker se trots.

Ons ouergemeenskap is die hartklop van ons skool, met hulle lojale ondersteuning bereik ons skool groot hoogtes.
Bethlehem Voortrekker is ‘n skool waar verskeidenheid tot eenheid saamgebind word. “n Skool wat die toets van tyd deurstaan het…sedert 1902.


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *