- Tuis
- Oor Ons
- Wat Ons Bied
- Publikasie
- Galery
- Kontak Ons
Bethlehem Voortrekker Hoërskool het sy ontstaan in 1870 in die konsistorie van die NG Kerk gehad. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is die skool se werksaamhede onderbreek, waarna dr. Clarke as die eerste hoof van Bethlehem Hoërskool aangestel is.
Spoedig het die skool ’n belangrike rol begin speel in die bewaring van die Afrikanerideaal, asook in die bevordering van versoening tussen die twee taalgroepe. Hierdie strewe leef vandag steeds voort en word weerspieël in ons leuse: Non sibi sed patriae (“Nie vir onsself nie, maar vir ons land”).
Voortrekker is bekend vir sy lewenslus en geesdrif. Ons blink nie net uit op elke moontlike terrein nie, maar ons weet ook hoe om die beste uit die lewe te haal.
Akademie is ons topprioriteit. Sukses op dié gebied word bevorder deur doelgerigte vakkeuses, klaskamers toegerus met die nuutste tegnologie, en bekwame, toegewyde onderwysers. Ons vorm nie net leerders nie – ons kweek toekomstige wetenskaplikes en ekonome, kunstenaars en tegnici.
Hoërskool Voortrekker is ’n omvattende skool met ’n volledige tegniese rigting, asook ’n erkende fokusskool vir Gasvryheid, Meganiese – en Siviele Tegnologie.
Op kultuurgebied staan ons sterk. Leerders neem met trots deel aan debat en redenaars, serenadesang, Voortrekkers, musiek, tienertoneel/drama en Blitsbrein – elkeen ’n geleentheid om selfvertroue en kreatiwiteit te ontwikkel.
Ons puik sportfasiliteite skep geleenthede vir deelname aan ’n wye verskeidenheid sportsoorte, insluitend atletiek, swem, tennis, krieket, hokkie, netbal en rugby.
By Voortrekker is niemand net ’n nommer nie – elke leerder is ’n individu met unieke potensiaal. Hier kry elkeen die geleentheid om te groei tot ’n gebalanseerde, selfversekerde en produktiewe mens.